Twee groot tree vorentoe vir Afrikanerselfbeskikking

Posted on 2013/11/26

0


unponovPOLITIEK – Die VF Plus het op 21 November die erkenning van die Kleinfontein-nedersetting as kultuurgemeenskap deur die Gautengse Wetgewer verwelkom, het Jaco Mulder, VF Plus-LPW in Gauteng, gesê.

Dit volg na ‘n omstrede ondersoek wat tydens November 2012 na die beweerde nie-toelating van SAPD-lede tot die perseel van Kleinfontein, in verslagvorm voor die Wetgewer gedien het.

Mulder het die verslag as positief bestempel en gesê dat daar niks gekom het van die aanvanklike aggressie waarmee die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid die ondersoek, wat ingevolge die Wet op Komitee-ondersoeke 8 van 2009 gemagtig is, aangepak het nie.

Mulder wat deurgaans ‘n lid van die ondersoekkomitee was, het verder gesê dat talle verkeerde persepsies oor Kleinfontein in die proses uitgeklaar is wat die tafel dek vir Kleinfontein om as kultuurgemeenskap binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse grondwet te kan voortbestaan.

Die VF Plus het tydens die grondwetskrywende proses van 1996 daarin kon slaag om artikel 185 en 235 in die Suid-Afrikaanse grondwet in te skryf wat ondermeer die regte van geloof-, taal- en kultuurgemeenskappe erken asook die reg op selfbeskikking.

Mnr. Mulder het gesê die VF Plus is daartoe verbind om die reg tot selfbeskikking van volke en spesifiek van die Afrikaner te bevorder wat die voortgesette bestaan van ondermeer gemeenskappe soos Orania en Kleinfontein verseker.

Dié oorwinning vir Afrikanerselfbeskikking kom op dieselfde dag wat die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) ’n internasionale konferensie oor minderheidsregte in die parlement te Kaapstad gehou het.

UNPO is ‘n internasionale organisasie met 42 ledegroepe wat sowat 200 miljoen mense wêreldwyd verteenwoordig. Die doel van UNPO is om aan onverteenwoordigde en gemarginaliseerde groepe soos Suid-Afrika se minderhede ‘n stem op die internasionale verhoog te bied. Die organisasie het al verskeie volke gehelp om hul reg tot selfbeskikking in hul eie grondgebied te herstel. Die Oos-Timorse volk is ‘n onlangse voorbeeld van ‘n minderheidsgroep wat deur hulp van UNPO volle onafhanklikheid bekom het (2002).

Die konferensie is bygewoon deur verteenwoordigers van o.a. die Afrikaner, Khoisan, Barotse, Rehoboth Basters en die Bruin Bemagtigingsbeweging.

Vooraanstaande akademici soos prof. Deon Geldenhuys (Politieke studies, Universiteit van Johannesburg), dr. Chris Landsberg (Voormalige Artikel 185-kommissaris) en dr. Danny Titus (Verenigde Nasies adviseur oor Inheemse Volke), het voorleggings gelewer oor verskeie onderwerpe wat minderheidsgroepe raak.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het ‘n inleiding gegee oor groepsregte en selfbeskikking soos dit in ander lande oor die wêreld gebruik word om minderhede te beskerm en hulle beheer oor hulle eie sake te gee.

Dr. Mulder het ter afsluiting van die konferensie ‘n vyf punt-voorlegging gedoen wat algemeen aanvaar is. Die punte is:

Ons is dit eens dat die vergadering vandag waar minderheidsregte vanuit Suid-Afrikaanse en internasionale perspektiewe bespreek is, ‘n belangrike en grondverskuiwende eerste stap is in Suid-Afrika se toekomstige staatkundige ontwikkeling;

  1. Ons siening is dat lande in die algemeen en in die besonder die Suid-Afrikaanse regering die aard van minderhede se identiteit en uiteenlopendheid erken en om hierdie realiteit grondwetlik te akkommodeer;
  2. Ons siening is dat minderhede se aandrang op regte heeltemal in lyn is met internasionale standaarde en norme;
  3. Ons almal streef na vryheid, maar ware vryheid beteken die erkenning van diversiteit teenoor gedwonge eenvormigheid;
  4. Ons glo dat ons in eenheid hieroor kan saamwerk binne die raamwerk van internasionale voorskrifte en dat ons sal voortgaan met gesprekke en dialoog in die belang van die gemeenskappe wat ons verteenwoordig.

Die konferensie is opgevolg deur ’n gesprek oor plaasmoorde en minderheidsregte op 22 November tussen dr. Mulder en die president van UNPO, Ngawang Choephel, asook sy sekretaris-generaal, Marino Busdachin.

Volgens dr. Mulder is dit ‘n historiese gebeurtenis aangesien dit die eerste keer is dat UNPO een van sy lede in Afrika besoek. Die organisasie het sy dank teenoor die VF Plus uitgespreek vir die geleentheid om Suid-Afrika te besoek en eerstehands van die situasie in die land te verneem.

BRON: Vry Afrikaner

VERWANT: UNPO